Ouboskamp 2013

5 Jong volwassenes en 12 tieners het die naweek van 4, 5 en 6 Oktober saam met ons meëgemaak. Dan het ons ook 8 volwassenes gehad wat uitgehelp het met al die voorbereidings. Die rol van die volwassenes was om daar te wees, beskikbaar te wees, te dien en om liefde te wys.

Die tema vir die kamp was 'Praise and Worship'. Ons het egter tydens die beplanning van die naweek se materiaal by die besef gekom dat ons moet begin by 'God'. As God, vir hierdie jongmense nie 'n realiteit is nie - dan kan hulle Hom ook nie loof, prys en aanbid nie. Nadat ons God 'n realiteit gemaak het, het ons gefokus op hulle verhouding met God en dan die uitleef daarvan vasgevang in lofprysing en aanbidding.

Ons bybelstudies, 5 van hulle, het gefokus op die Johannes 4 gedeelte van die Samaritaanse vrou by die put. Dit het alles gehandel rondom die gedagte dat wanneer jy 'n ontmoeting met God het, bring Jesus waarheid in jou lewe. Slegs wanneer jy skreiend eerlik voor God staan kan Hy verandering in jou lewe bewerk. Ten slotte, wat is die uitvloeisel van 'n ontmoeting met God - soos ons dit by die Event gehoor het - 'You introduce your other friends to your best friend, Jesus.'

Saterdagaand was reeds van die aanvanklike beplanning van die kamp vir ons die hoogtepunt. Wat 'n hoogtepunt was dit dan ook nie? Ons het die laaste groepsessie gedoen en toe daarna ge-'Praise and Worship'. Voor die 'Praise and Worship' het ons indringend gebid. Hoe getrou was God ook nie. Elke liewe ding waarvoor ons gevra het, het God gekom en waar gemaak en aan die groep kom skenk. Wat 'n voorsienige en getroue God dien ons nie? Almal wat daar was, was bewus van God se teenwoordigheid en ons kon God se liefde voel en ervaar.

Om af te sluit. Ek het nog nie so 'n kamp saam met tieners beleef nie. Dit is voorwaar vir my 'n baie spesiale naweek en 'n klomp spesiale mense saam met wie ek die naweek gedeel het. Ek wil net dankie sê aan elkeen wat bereid was om gehoorsaam te wees en wat die naweek moontlik gemaak het. Baie dankie ook vir die venue wat aan ons beskikbaar gestel is.

Moenie die volgende een mis nie.



† Na Bo †

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.